Review by Paul Boekkooi

Dednam-kwintet reeds stewig op koers

deur Paul Boekkooi

Jazz-aand met die Marcel Dednam-Kwintet – Marcel Dednam (klavier), Werner Spies (kontrabas en baskitaar), PeterAuret (tromme), Deryn Dednam en Gerhard Geyser (saxofone). Genooide gaskunstenaar: Nelmarie Rabie (sang). In die Pierneef Teater, Pretoria.

Stap jy met ʼn stemopnemer in jou hand straat-af en jy vra vir enige voetganger  wát presies jazz is, gaan jy waarskynlik skouerophalende reaksies kry. Selfs jazz-musici verskil hewig oor wat jazz ís. Tog het die legendariese uitblinkers ʼn oorspronklike mening gehuldig. Louis Armstrong s’n bly die mees “klassieke” een: “Man, as jy dit móét vra wat jazz is, sal jy nóóit weet nie.” Thelonius Monk, ʼn pians en naby-tydgenoot van Satchmo, het gesê: “ʼn Noot kan so klein soos ʼn speld wees of so groot soos die wêreld. Dit hang van jou verbeelding af.” Laat ons volstaan met die trompetspeler Wynton Marsalis: “Jazz-musiek is die krag van nóú. Daar is geen teks nie. Dit is ʼn gesprek. Emosie word aan jou oorgedra deur musici terwyl hulle splitsekonde-besluite neem wat dan presies sal vervul wat in dié spesifieke oomblik vereis of verwag word.”

Marcel Dednam is pianis en leier van die kwintet van jazz-musici en ʼn -sangeres, wat ʼn nuwe verskyning op ons verhoë verteenwoordig. Dit is ʼn uiters welkome ontwikkeling in ʼn stad wat helaas dié genre by tye stiefkinderlik behandel het. Al is jazz in hoër musiekkringe die afgelope jare steeds wyer by klassieke tradisies ingelyf – dink aan Unisa se internasionale en nasionale kompetisies – is, buiten enkele gevalle soos Charl du Plessis se trio, Tshwane nie juis ʼn jazz-paradys nie.

Dednam is ʼn groot aanwins. Sy klavierspel weerspieël ʼn klassieke opleiding wat geensins ʼn invloed had op sy potensiaal om binne die jazz-idioom vrye vlugte te onderneem nie. Improvisasie is duidelik ingebed in sy spel, alhoewel ʼn mens in dié stadium (nog) nie heeltemal die omvang van daardie vryheid kan peil nie. Daarvoor moet die vyf instrumentaliste nog sterker artistiek/stilistiese verbintenisse met mekaar sluit.Hopelik word dit ‘n top-prioriteit.

Reeds by die openingstuk, Dednam se selfgekomponeerde The Journey, met aanvanklik ligvoetige ornamentasies op die klavier, kon ʼn mens op ʼn verbeeldingsvlak die verband tussen die titel en die musiek wat jy hoor deurtrek. Ook sy daaropvolgende Hoppin Away het ruimte vir spontane improvisasie gebied. Met Afrodisia deur die bebop-trompetspeler Kenny Dorham en waarin die kwintet voltallig geword het, was daar in die werk iets van ‘n simbiose tussen tipies Amerikaanse jazz en elemente van Afrika herkenbaar. Die slot besit kortstondige humor

In Pra que discutir con madame, gesing deur Nelmarie Rabe, is die polsende samba-ritme van dié Portugese lied raak getref. Teen dié tyd het dit duidelik geword dat die klankbalans nie ideaal was nie. Die klavier was ietwat te sag teenoor die meer dominerende ander instrumente, asook die sangeres. Al is die werk minder bekend, was die komponis Antonio Carlos Jobim duidelik herkenbaar in Double Rainbow. Hierna het vyf komposisies van die pianis gevolg – almal die moeite werd om te ervaar, met Uncertainty wat op die teenwoordigheid van  Covid-19 sinspeel, selfs uiters inspirerend.

Michel Camilo, ʼn pianis en komponis van die Dominikaanse Republiek, se On Fire het in die hande van dié kwintet méér as net gesmeul. Dit was loslittig en in ʼn gepaste, selfs perfekte styl uitgevoer. Ook die solowerk deur Auret en Spies in Grys Dans en in talle ander items verdien spesiale vermelding.

Nelmarie Rabe se aandeel was ten opsigte van meer verskeidenheid ‘n aanwins. Haar sang het egter op die lange duur ietwat eenselwig begin word, terwyl haar diksie moet verbeter. Deryn Dednam en Gerhard Geyser is waarlik twee pro’s, maar die verwerkings het hulle te min kans gegun om in solowerk hulle potensiële virtuositeit en/of improvisasiekuns te demonstreer.